Monday, November 25, 2013

'n Dagreis ver

Pofadder - dis een van daai plekke waarvan mens hoor en soms wonder of dit regtig bestaan. So hoor ek die Maandag ek moet Dinsdag na Pofadder gaan. Met my harde hoed, my tekkies en my sonskerm in my tas, pak ek die reis aan wat bestaan uit 'n vlug na Updington Internasionale lughawe. Vandaar gaan ek met 'n huurmotor die 200 en iets km na nerens aandurf.

Ek is aangeraai om inkopies in Upington te doen vooraf, en ek besluit om by die Pick en Pay te gaan stop. Met die eerste poging vind ek geen Supermark nie, en besluit om tegnologie te raadpleeg. Jip, my Google Maps se dis nie te ver nie, en die tannie gee vir my instruksies. Al wat so bietjie snaaks is, is dat ek terugry lughawe toe! Toe ek uiteindelik by my "bestemming" kom, is daar niks rondom my nie, nie eers 'n verlore skapie wat aan die bossies kou nie! Ek besluit om terug te val op die ou dae, en bel 'n vriend wat in die omgewing bel. Sy sekretaresse is gaaf genoeg om my aanwysings te gee, en gou genoeg is ek by die Pick en Pay uit met 'n sak vol tamatie, komkommer, yogurt en vrugte. 

In die warm November dag pak ek die lang pad aan van nerens na niks. Uit verveling en moegheid stop ek by die Pienk padstal in Kakamas - hulle het koek en koffie geadverteer, maar toe ek binne kom het ek skoon vergeet. Ek is daar uit met 'n ougat Consol water bottel en 'n herinnering van 'n lekker geselsie met 'n witkop seuntjie wat vir my vir At gewys het, dis omdat hy nie "kat" kan se nie. 

 Vandaar stop ek by Augrabies. Ek sal eers die volgende dag op die bouterrein kan wees, en ek weet nie wanneer ek weer daar gaan kom nie. So warm het ek lanklaas gekry. Ek het 'n selfie geneem met die waterval in die agtergrond, maar my gesig blink soos 'n koper deurknop, van die onbeskaamde sweet. In die giftshop van die park sien ek 'n man met 'n kenmerkende haredos - "Dit voel of ek jou al heeldag sien." Ek se dit nie omdat hy een van daai gesigte het nie, en hy beaam: "Ja, jy was vanoggend op die MyCitiBus ook, en op dieselfde vlug." Dat die wereld so klein kan wees...

Laatmiddag ry ek deur Pofadder. Ek gaan kyk waar is die Pofadder hotel waar ek vroegdag 'n vergadering het, en die gastehuis waar ek van die volgende dag af gaan bly. 

Van daar vind ek my pad na Klein Pella. Dis 'n entjie verder op die teerpad, en nog soveel verder op 'n sanderige sinkplaat grondpad. Vooraf het die manne by die kantoor gese dis die beste plek om te bly, maar met so pad weet ek nie lekker nie...


Wanneer ek daar aankom, in die koelte stop, is ek nie teleurgestel nie. Daar wag vir my 'n lugverkoelde kamer met muskiet sproei en 'n heerlike stort. 'n Bord vol tuisgemaakte boerekos en 'n pragtige sonsondergang. More begin die eintlike avontuur.



No comments: