Tuesday, November 26, 2013

Slaai sorbet en die kombers debakel

Die metropool van Pofadder is nie vir bang broeke nie. Om daar te kom is ver en as jy daar is moet jy hare op jou tande he, en jou eie tandepaste saambring.

Ek is gewaarsku dat vars goed nie gereeld daar te vind is nie - eenkeer per week, op 'n Donderdag - en as mens heeldag buite die dorp op 'n bou terrein is, is jou kans om tamaties te kry klein na geen. Met my aankoms het ek 'n sakkie vol slaaigoed in Upington gekoop, tamaties, komkommer, aspersies, vrugte,yogurt en 'n boksie rooibos heuning tee, vir ingeval. Dit het merkwaardig genoeg die eerste dag in die lugversorging oorleef, maar toe ek die aand in die gastehuis inboek is ek dankbaar om 'n yskas te sien. Met my goedjies mooi in die yskassie gepak, besluit ek om te ontspan met 'n koppie koffie in die hand.

Tot my verbasing is daar nie melk nie, en helaas, ook nie bekers in die kamer nie. Ek sou uitgeglip het en in die gemeenskaplike kombuis gaan kyk, as ek nie reeds in my pajama pakkie was nie. Gelukkig het ek saam met my 'vir ingeval' tee 'n 'vir ingeval' beker gekoop, so toe werk ek maar 'n teetjie in vir my slaaptyd drankie.

Na die hitte van die die dag, verwag mens nie juis dat dit sal koel word saans nie, en ek was nie teleur gestel nie. Dis die dat ek dit so snaaks vind dat toe ek die bo-oor kombers sowel as die magdom van strooikussings en die deken wegtrek, daar 'n dubbelgevoude winter kombers op die bed is. In middel November nogal! Min gepla, net baie moeg, sit ek die dik kombers, dun kombers en die weermag van strooi kussings op die tweede enkelbed en krup onder die laken in. Groot was my verbasing die volgende aand, toe ek die kombers in presies dieselfde posisie vind. 5 aande in 'n ry, in dieselfde kamer van dieselfde gastehuis!

Juis die tweede aand besluit ek dis tyd vir ietsie vars en wil vir my 'n slaaitjie aanmekaar slaan. Ek het soet mostert gekry om met die yogurt te meng vir 'n slaaisous, en 'n knipmes van die huis af gebring vir die snywerk. Groot was my teleurstelling toe ek besef die yskas was so koud, dat my slaai gevries het! As daar een ding is wat ek al geleer het, is dat as slaaigoed eers gevries het, verlep dit gou, en ek besluit die enigste hoop wat ek op aandete het, is om dit te eet terwyl dit nog koel is. In die hitte wat ek die dag ervaar het, het die idee van 'n ekstra verkoelde slaai nogal aanloklik geklink. Darem het die mostert-yogurt slaai na iets gesmaak, en die olywe daarmee saam. Vir die eerste keer in my lewe het ek breinvries ondervind van komkommer... saam met die tamaties en aspersies het ek slaai sorbet gemaak!

No comments: