Sunday, November 24, 2013

Kalkbaai

Ek het die ander dag gaan kyk dit om die draai van waar ek bly. Ek het die voorreg om in een van die gewildste toeriste bestemmings te bly, ek kan net sowel self soontoe gaan!
Met 'n tenk vol petrol en 'n kar charger, kies ek die M3,rigting Muizenberg. In my dagboek se voorste bladsye is die name van moet-sien plekke in Kalkbaai.
Miskien moes ek vroeƫr gekyk het of daar enige iets aan die gebeur is, want ek was nie bewus daarvan dat paaie gesluit gaan word vir die Big Walk nie! Gelukkig het ek geen haas en toe ek by 'n pad kom wat gesluit is, vat ek met 'n glimlag die 'scenic route'. Net om weer by 'n geslote pad te kom. Genoeg is genoeg en ek besluit net daar om sommer die plek op Noordhoek te gaan beloer.
'n Rogbrood en soetgoed in die sak, vind ek my pad terug na Kalkbaai, reguit na die legendariese Kalky's Fish & Chips, en van daar gaan loop ek in die straat op soek na kos vir my siel.
Ek vind dit by die tuinwinkel, saam met 'n paar potte en 'n sak grond. Dis hoog tyd dat ek my balkon tuin bietjie meer aandag gee.
Van daar word my siel verkwik by die Artvark, 'n kuns sentrum. Hier ontmoet ek 'n selfgeleerde kunstenaar wat die mooiste afdrukke maak. Ek verloor my hart op 'n portret met 'n rooi lip meisie, maar ek laat haar oorstaan vir eendag as ek geld het. Toe ek weer daar verby is, is sy verkoop. Ek gaan weer terugkeer, die man se werk praat met my.
Vandaar 'n koffie by Origin, op die stoep waar ek kan uitkyk. Ek maak 'n handvol notas vir die boek wat ek skryf oor 'n perfekte Latte  bedien in 'n koeldrank glas!
Die winkels is vol inspirasie met mooi goed, juwele, klere, huis goed. Ek geniet die stappie en verlustig my siel, tot by die laaste plek op my lysie, Olympia bakkery vir een van hulle befaamde Croissants, vir wegneem. Ek het nou lekker goed vir die res van die week!
Die terugtog is verbasend vinnig, binne 'n halfuur is ek tuis, uitgeput en verkwik.

No comments: